| Tuis/ Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. |
| Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
DRIE KAMELE VIR KERSFEES
(Dié verhaal het in Desember 2003 se Baba & Kleuter verskyn. Die weergawe hieronder is ongeredigeer)
Die muur is hard agter Christiaan se rug. Hy sit op die klipvloer van die stoep net langs die buitedeur na die eetkamer. Hy staar na die donker hemel. Daar is nie ‘n ster in sig nie. Hy hoor Pa en Ma lag in die slaapkamer. “Kom kyk, Christiaan,” roep Ma. “Jou boetie het so pas ‘mamma’ gesê.”
‘Dis nie waar nie!” lag Pa. “Pappa. Hy het pappa gesê:p a p p a. Kom luister jy, Christiaan, dan sê jy wat Boetie sê!”
"Ek is besig,” skreeu Christiaan terug. “Ek kan nie nou kom nie.”
“Ag Christiaan,” skreeu Ma. “Kom sit hier by ons.”
“Ek kan nie nou nie,” antwoord Christiaan vies. Eintlik wil hy nie saam met Pa en Ma om die boetie se bedjie staan en koerrrrr nie. Pa en Ma raak skoon laf as hulle naby die babatjie kom. Pa wikkel selfs sy ore vir hom en dan lag die babatjie, sulke simpel klein laggies. Pa wikkel nooit meer sy ore vir hom nie. Die kamstige boetie is die simpelste ding wat hy nog gesien het. Hy kan niks doen nie. Hy lê net daar en alles word vir hom gedoen en dan dink almal nog hy is so oulik. Oulik se voet. Simpel. Nikswerd.
“Hy sê beslis mamma!” hoor hy Ma se stem.
“Nooit,” stry Pa. “Jy hoor verkeerd. Pappa.”
“Hy sê GOE GOE GA GOE GOE GA,” skreeu Christiaan. “En dit beteken NIKS.”
Dit word stil in die slaapkamer. Christiaan laat sak sy kop op sy knieë. Ag tog. Hoekom het hy tog nou so ‘n lelike ding gesê?
“Wat sit jy weer hier in die donker. Kom help my in die kombuis, Christiaan,” sê Ma agter hom. “Die kos is amper klaar. Dan kan ons presente gee.”
“Ek sal nou kom, Ma,” antwoord Christiaan. “Ek sit net nog ‘n bietjie hier.”
Pa sê saggies iets vir Ma, maar hy kan nie hoor wat hy sê nie.
“Goed,” sê Ma. “Ek sal roep as die kos klaar is.”
“Okay, Ma,” antwoord Christiaan. Hy vlieg op en hardloop na die swaai toe. Hy gaan sit en maak homself hoër en hoër en hoër todat dit voel asof hy amper aan die donker hemel kan raak. Alles is so anders vandat sy boetie gekom het. En hy moet volgende jaar grootskool toe en niemand dink meer aan hom nie. Almal is net altyd besig met die babatjie.
Hy skop sy bene uit en trek hulle saam. Hy gaan hoër en hoër. Dit voel amper asof die swaai bolmakiesie wil maak. Hy wil so graag ‘n fiets hê vir Kersfees, maar hy weet hy gaan nie een kry nie. Pa sê kinders is duur. En nou is hulle twee. En die babatjie het baie goed nodig. Simpel ding.
Hoër en hoër.
En dan sien hy die ster.
Hy skop sy bene uit en hulle sleep oor die grond. Die swaai kom tot stilstand. Waar het die ster vandaan gekom? Hy dog hy het hulle almal gepluk. Elke aand sit hy daar teen die muur en pluk sterre. En dan sit hy hulle in sy rooi sakkie waarin hy altyd sy albasters bêre. Hy was seker hy het al die sterre gepluk. Vir wat sit hulle daar en blink in die donker? Hulle maak hom vies. Tannie Marie het gesê toe sy hier aangekom het met armsvol presente vir die babatjie: “O Christiaan! Jou ogies blink seker soos twee sterretjies oor jou nuwe boetie.” Hy wou sê: Nee, tannie Marie. My ogies blink nie soos twee sterretjies nie. Ek hou niks van my boetie nie. Hy is simpel. Maar mens mag nie sulke lelike goed sê nie.
Hy kyk weer na die ster. Dis regtig ‘n blink ster. Maar hy hang nie baie hoog nie. Hy sal hom sommer maklik kan pluk.
Hy haal sy rooi sakkie uit sy sy broeksak en steek sy ander hand uit na die ster. Maar hy kry hom nie raakgevat nie. Hy staan op sy tone. Daar .. amper. Nee. Dis mis. Dit lyk asof die ster beweeg. Miskien is dit ‘n vallende ster. Dan kan hy wens. Maar nee. Die ster val nie, hy beweeg net. Hy klim op die raam waaraan aan die swaai hang. Nou sal hy hom maklik kan raakvat. Maar hoe hy ookal vat, hy kry hom nie raakgevat nie.
‘Is jy ook agter die ster aan?’ vra ‘n stem onder hom.
Christiaan kyk af. Hy skrik so groot dat sy hande amper losgly van die klimraam. Hy gryp net betyds weer vas. ‘n Kameel staan langs die klimraam. En op sy rug sit ‘n man met lang klere aan. Daar is ‘n kameel in hulle tuin. ‘n Kameel?
Hy maak sy mond oop om vir Pa te skreeu, maar dan maak hy sy mond weer toe sonder dat daar ‘n geluid uitgekom het.
“Hierdie kant toe,” skreeu die man op die kameel. Christiaan kan hom duidelik sien in die lig van die helder ster. Dis nie dieselfde stem as die een wat met hom gepraat het nie. Wie het met hom gepraat?
“Hulle is ook agter die ster aan,” sê die stem weer.
Dis die kameel! Dis die kameel wat met hom praat. “Praat jy met my?” vra Christiaan versigtig.
“Jip,” sê die Kameel. “Hulle dink nie ek kan praat nie. Ek is mos net ‘n kameel.”
“Ek het nog nooit met ‘n kameel gepraat nie,” sê Christiaan. “Ek het nog nooit eens ‘n kameel gesien nie. Nie ‘n regte een nie. Net prentjies van kamele.”
“Hierdie kant toe,” skreeu die man op die kameel weer. “Hier’s water!”
Christiaan moet weer klou aan die klimraam van skok, want om die hoek van die huis kom nog twee kamele aangestap.
“Ek dink ons moet hier bly vir die dag,” së die man op die kameel. “Die son kom al amper op. Dan kan ons môrenag verder reis.” Die kameel kniel en hy seil van die kameel se rug af.
“Dis ‘n goeie plan,” së die mans op die ander twee kamele. “Ons het al ver gekom.”
Christiaan se mond hang oop. Drie mans op kamele. Maar hulle dink dis amper dag. En dit is nie.
“Ek het ‘n kind gekry,” sê die kameel wat met Christiaan gepraat het.
“Hallo daar,” sê die ander twee kamele.
“Hallo,” sê Christiaan verstom.
“Maar hy is nie die regte kind nie, is hy?” vra die een kameel en kniel langs die ander kameel dat die man op sy rug ook afklim. “Die regte een is nog net ‘n babetjie.”
Christiaan voel hoe hy sommer skielik rooi word van kwaaigeid. “Wat bedoel jy ek is nie die regte kind nie?” Wat is dit met met almal dat hulle so behep is met babatjies? Nes mens groter word sien niemand jou meer raak nie.”
“Ja, Kameel, daar het jy nou jou poot daarin gesit. Nou het jy die kind kwaad gemaak,” raas die derde kameel as hy ook kniel sodat die man kan afklim.
“Ekskuus. Ekskuus, ” sê die kameel. “Ek het dit glad nie so bedoel nie. Ek bedoel maar net jy is nie die kind wat die manne soek nie.”
“Watse kind soek julle?” wil Christiaan weet.
“Ons weet nie,” antwoord die een kameel. “Maar die manne praat van ‘n kind. wat hulle soek. ‘n Baie, baie spesiale kind.”
Christiaan se oë staan meteens stokstyf in sy kop. Drie mans op kamele wat ‘n kind soek? En ‘n helder ster wat voor hulle uitbeweeg? Dit kan nie wees nie. Dit kan nie waar wees nie. Dis tog onmoontlik?
Maar die mans is besig om so ‘n tentafdak langs die swembad op te slaan. In hulle tuin. Hy sien hulle. En hy sien die kamele.
“Ek wonder wat gaan aan?” sê die een kameel. “Wat het van al die ander sterre geword? Dis net hierdie een blink ster. Ek mis al my sterre.”
“Ek het hulle gepluk,” sê Christiaan.
“Hoekom?” vra die ander kameel verstom.
“Ek was kwaad,” sê Christiaan. “Ek het ‘n bababoetie gekry en niemand gee meer aandag aan my nie.”
“Waar’s die sterre nou?” wil die een kameel weet.
“Hier in my sakkie. Dink julle ek moet die sterre teruggooi?” vra Christiaan.
“Ons weet nie,” sê die kamele in ‘n koor. “Is jy nog kwaad?” vra die een.
“Bietjie,” sê Christiaan. “Maar nie meer so baie nie.”
“Jy moet maar self besluit wat jy wil doen,” sê die een kameel.
Christiaan voel aan sy sakkie vol sterre. Die kameel het gesê hy mis sy sterre. Dis die kameel se sterre ook. Nie net syne nie. Hy maak die sakkie oop en strooi die sterre oor sy kop. Skielik is die hemel vol liggies. Maar die een ster, wat hy nie kon vang nie, is nog steeds helderder as al die ander.
“Dit lyk nou moooooi,” sê die een kameel. “Dis soos dit moet lyk.”
“Christiaan!” roep Ma deur die agterdeur. “Wat maak jy nou op die swaai?”. Sy kyk meteens op. “Maar dit is ‘n wonderlike aand buite. Kyk net al die sterre. Geen wonder jy sit hier buite nie. Ek dink ek bring ons kos uit, dan eet ons op die stoep.” Ma verdwyn weer in die huis.
Sy het nie die kamele en die manne, wat nou saggies sit en gesels om die vuur wat hulle gemaak het, gesien nie, dink Christiaan. Maar sy het die sterre gesien.
“Ek is jammer, maar ek moet nou gaan,” sê Christiaan vir die kamele. “Ek moet my ma gaan help.”
“Dis reg so,” sê die een kameel.
“Ons moet ook nou rus. Daar lê nog ver paaie voor,” sê die ander kameel.
“Gaan jou goed, Christiaan,” sê die derde kameel.
“Dankie dat julle gekom het,” sê Christiaan as hy van die klimraam afgly. “En mag julle reis voorspoedig wees. Ek weet dit sal wees. Julle sal die babatjie kry.”
Christiaan drafstap huis toe. Hy gaan stilstaan op die stoep en kyk vir oulaas om na die kamele. Dan kyk hy na die sterre. Hulle is almal daar. Soos hulle moet wees. En die groor blink een. Hy hardloop in die huis in. Hy steek vas en kyk na die kersboom in die hoek van die eetkamer. Volgende jaar sal hy ook versierings maak. Sommer baie. Sommer baie mooies. Vanjaar was hy nie lus nie. Dan hardlloop hy in die gang af.
Hy gaan staan langs Boetie se wiegie. Boetie se oë is oop en hy gorrellaggie skielik uit sy keel.
“AS ek dalk een dag ‘n fiets kry, kan JY ook daarop ry,” sê Christiaan. “Maar ek sal jou eers moet leer. Jy is nog heeltemal te dom. En jy sal versigtig moet wees. Dis nie maklik om fiets te ry nie en mens val seer as jy val.”
“Goe tiii – giiiiii ,” sê Boetie en frons skielik. .
“Maar ek sal jou leer. Dit sal als okay wees,” sê Christiaan.
Boetie lag weer. Christiaan glimlag ook. Net so effens.
“Goe ti aaa,” sê Boetie.
“Wat sê jy daar?” vra Christiaan?
“ Goe ti aaa goe goe gaaaaaaa,” lag Boetie.
“MA! PA!” skreeu Christiaan en hol by die deur uit en af in die gang. Pa en Ma kom verskrik uit die kombuis te voorskyn. “Wat is dit?” vra hulle.
“Hy sê TIAAAN …..” glimlag Christiaan van oor tot oor. “Hy sê nie pappa nie. Hy sê nie mamma nie. Hy sê TIAAN! Julle kan net nie mooi HOOR nie. En ek kan SELF my ore wikkel. Kyk!”
Christiaan wikkel sy ore.
Pa lag so dat hy amper omval.
“Ek het lank geoefen,” lag Christiaan. “Daar buite in die donker.” Hy sit sy leë albastersakkie in sy broeksak. Hy sal sy albasters moet gaan soek. Hulle lê sy hele kamer vol.
Terug na/Back to