| Tuis/ Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. |
| Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
KANJA DIE DERDE
Martie Preller en Martie Kruger
Illustrasies: Heidi Fivaz
STORIE 1: JANUARIE 2006 - APRIL 2007
STORIE 2: MEI 2007 - APRIL 2008
English Summary:
Ongoing children's story in rooirose, a women's magazine. It is the story of Kanja the Third, Bernard the Guardian and other inhabitants of O-Pi-Rison, a city which can be found at exactly the place where the sea and the horizon meet.
Kaart van O-Pi-Rison/Map of O-Pi-Rison
Januarie 2006

Net daar waar die see en die lug bymekaar kom, net daar waar die see en die lug versmelt, net daar, ver op die horison, begin die land waar Kanja die Derde woon. Dis ‘n land wat baie anderste is as ons land, maar dis nie so anders nie! Kanja bly in ‘n stad met die naam O-Pi-Rison.
O-Pi-Rison is ‘n ou stad met dik mure rondom die stad en ‘n groot stadspoort waar almal uit en ingaan. Maar hulle maak nooit die stadpoort se hekke toe nie en hulle hang al effens skeef net aan een skarnier elk. Maar dis nie nodig om die hekke toe te maak nie, want alles is vredig en rustig in O-Pi-Rison. Almal gaan hulle gang, net soos die Risonrivier wat stadig en diep dwarsdeur die stad vloei. Daar was lanklaas moeilikheid in die stad.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Januarie 2006)
Februarie 2006
“Die ou vrou is maller as ooit,” fluister Bernard in Kanja se oor.
“Ek het jou gehoor, Bernard die Bewaker. En vandag sal jy jou bewaak moet ken,” laat Mamina skril van haar hoor.
Bernard duik benoud diep in Kanja se oor. Die ou vrou het hom een keer onverwags geraps met haar bek. En dit was nie lekker nie.
Kanja swaai haar emmertjie vinniger en slaan oor na na ‘n drafstappie, uit by die stadspoort se hekke. Vandag is so ‘n helder dag, dit gaan ‘n warm dag wees en dit het twee weke laas gereën. Sy is seker sy sal die Bonsbos vandag naby die fontein kry waar hulle bietjie ekstra water kom opslurp het.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Februarie 2006)
Maart 2006

Die Brouers bly aan die een kant van O-Pi-Rison, anderkant die Risonrivier. Hulle hou baie daarvan om met klip te werk en het die stadsmure en die klippaadjies tussen die neste gebou en die kanaal van die fontein in die Boomvelde na die stad. Nadat alles klaar gebou was, lê die Brouers net rond daar in die klipwerke waar hulle al die klippe uitgekap het. Anders as die Rankwewers en die Bosbesers bly hulle nie in neste nie, maar in kliphuisies. Niemand weet eintlik presies wat hulle werk is nie. Hulle het darem vir Minieur Dipô die standbeeld-fontein gebou wat op die stadsplein staan.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Maart 2006)
April 2006

Toe sy naby die grasvlaktes kom en haar oë heen en weer soek of sy dalk die Bonsbos kan sien uitsteek bo die grasse wat net bietjie langer as sy is, sien sy ‘n groep babbelende Bekbesers voor haar wat kom grasse pluk om die beddegoed mee te weef.
Kanja hou dadelik op met hardloop. Maar sy loop vinnig aan, met haar emmertjie swaaiende in haar hand.
“Ja, dis beter dat die Bekbesers nie sien ons is bekommerd nie,” sê Bernard.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, April 2006)
Mei 2006

Die grasse vou amper oor haar kop, so hoog is hulle. Bernard klou aan haar oor vas. Die grasse wat agter Kanja weer toevou het hom amper van haar kop afgevee. “Dit was nog nooit nodig om so ver te kom soek nie,” sê Bernard.
“Daar is altyd ‘n eerste keer,” antwoord Kanja. “Net hier voor, na die linkerkant toe, is ‘n groot boom op ‘n heuweltjie. As ons daarin klim kan ons verder sien. Ook anderkant toe.”
Bernard sê niks. Hy sug net en koes vir nog ‘n paar grasse wat oor Kanja se kop swiep.
Na ‘n ruk voel Kanja hoe sy opdraende loop tussen die grasse en dan sien sy die boom wat sy van die pad af in die verte gesien het.
Rondom die boom is die grasse yler. Hulle groei nie in die skaduwee van die boom nie. Sy sit haar emmertjie neer en klouter rats tot op die hoogste tak.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Mei 2006)JUNIE 2006

Kanja skud net haar kop en hardloop verder, reg noord na die Mosmoerasse. En sê nou die Bonsmos is nie by die versteende woud nie ... hak die slegte gedagtes in haar kop vas, maar sy is te bang om dit hardop te sê. Hulle sal daar wees ... hulle sal daar wees ... probeer sy die negatiewe gedagtes positief maak. En sê nou hulle is nie ... Hulle sal daar wees ... hulle sal daar wees ...
Daar voor haar lê die Mosmoerasse nou. ‘n Donker swart strook.
Haar voete vat die smal paadjie wat tussen die ranke deurkronkel.Sy vleg tussen die swart ranke deur. Haar voete suig vas in die diep swart slik, maar sy ken die pad. Sy moet net nie van die paadjie afwyk nie. Party plekke is die slik so taai dat jy nie sommer kan loskom nie.(Uittreksel uit die ROOIROSE, Junie, 2006)
JULIE 2006

Kanja gaan uitasem staan. “Ek kom net sê dat ek nie vanoggend die Bonsbos kry nie. Maar ek sal weer gaan soek.”
Die houtlepel waarmee een van die Rankwewers die ranke geroer het in die vat, val uit sy hand.
“Die Bonsbos is weg,” fluister een.
“Ek kry hulle net nie. Nie so vinnig soos ander oggende nie,” probeer Kanja nog verduidelik.
En dan trek daar ‘n fluistering soos ‘n veldbrand deur die stad, van nes tot nes: van klippaadjie na klippaadjie, tot oor die Risonbrug na die deel waar die Brouers bly: “Die Bonsbos is weg ... “
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Julie, 2006)
AUGUSTUS 2006

Kanja en Bernard kyk benoud toe. Hulle het nooit kon dink dat hulle boodskap so ‘n effek sou gehad het nie. Hulle het net gedink Minieur Dipô sal raas en hulle dadelik terugstuur om nog te gaan soek. Maar nou is die hele stad in wanorde en almal is ontsteld.
“Nou is almal gek. Dis ‘n gek stad,” fluister Bernard in Kanja se oor.
Kanja vat verskrik na Bernard se lyfie op haar kop. Hy tril sy voelers in haar hand. “Die hele lot is nou gek,” fluister hy weer.
“Ja, Bernard die Bewaker,” tril Mamina se stem van die stadsmuur af. “Almal is nou gek.”
“Hoor die ou vrou alles?” fluister Bernard geskok in Kanja se oor.
“Die ou vrou sien ook alles. Maar sy weet net nie wat om daaraan te doen nie,” skril Mamina weer bo die gedruis van die aanstormende Brouers.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Augustus, 2006)SEPTEMBER 2006

“Julle moet gou maak. Ons is honger!” skreeu ‘n Rankwewer agter Kanja en Bernard aan.
“Daar is baie bessies aan die Bergbossieboom,” sê Smirro en gaan staan voor Minieur Dipô.
Kanja steek vas en draai weer om.
Daar gaan ‘n ruising deur die menigte wat saamgedrom het op die plein. “Moet ons Plattiepotekos eet?” verwoord een van hulle almal se skok.
“Wat anders?” sê Smirro en sy stert swiep heen en weer. “Daar is genoeg.”
‘n Plattiepoot raas weer êrens, maar sy stem word weer gesmoor.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, September, 2006)OKTOBER 2006

Sy steek vas as die skaduwees van die Mosmoerasse om hulle vou. “Waar sal jy wegkruip as jy die Bonsbos was, Bernard?” vra sy.
“Hoe sal ons weet wat in daardie mal hoppende bome se koppe ... stamme ... takke .. wortels .. blare aangaan?” sug Bernard.
Kanja glimlag weer.. Mal, hoppende bome inderdaad. As sy nou maar net hulle ruisende takke kan hoor en hulle lenige stamme êrens kan kry.
Sy loop stadig aan met die donker pad en bespied die digte swart ranke weerskante van haar. ‘n Stad sou in die Mosmoerasse kan verdwyn en jy sal dit nooit vind nie. Hoe gaan hulle die Bonsbos ooit hier kry as hulle nie wil gekry word nie?
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Oktober, 2006)NOVEMBER 2006

“Waar? Ek sien niks? Is dit die dol bonsende bos? Hoekom klink jy dan nie bly nie?” ryg Bernard die vrae uit terwyl hy op die punt van een van Kanja se ore klim om beter te kan sien.
“Daar blink iets,” fluister Kanja.
“Iets blink? Yster?” Bernard trek sy asem diep in. “Ek sien nog steeds niks nie.”
Kanja sit haar emmertjie neer in die paadjie. Sy strek haar hand uit en vat die tak wat Bernard amper van haar kop afgestamp het en trek dit versigtig na links. “Daar,” sê sy. “Net daar.”
Bernard blaas sy asem uit. “Dis ‘n ... wat is dit, Kanja?”(Uittreksel uit die ROOIROSE, November, 2006)
DESEMBER 2006

Sy tel haar emmertjie met haar ander hand op en begin haastig terugloop met die paadjie. Die ystervoorwerp is swaar en ongemaklik in haar een hand.
“Miskien is dit hy wat in die berge bly ...” fluister Bernard.
“Dink jy hy wat in die berge bly het die ding gemaak om die Bonsbos mee af te kap? ” fluister Bernard weer.
“Ek weet nie. Ek weet nie. Miskien. Maar ons weet nie eens wie hy is nie. Niemand praat ooit oor hom of wat hy gedoen het nie,” antwoord Kanja.
Kanja loop vinniger om onder die skadus van die digte rankdak uit te kom.
“Ek weet ook nie. Maar ek gaan uitvind,” sê Bernard beslis. “Wat help dit ek is die bewaker en ek weet nie wat aangaan nie.”
“En ek is Kanja die Derde en niemand wil vir my sê hoekom nie,” antwoord Kanja.(Uittreksel uit die ROOIROSE, Desember, 2006)
JANUARIE 2007

“Maak oop die hek!” skreeu Kanja. Sy weet nie of sy die byl moet laat val of hom vashou nie.
“Maak oop die hek,” skreeu Bernard ook.
“Wat is die wagwoord?” skreeu ‘n Brouer.
“Jy kan mos sien dis ons. Hoekom moet ons ‘n wagwoord hê?” brul Bernard nou van woede.
Skielik swaai die hekke oop.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Januarie, 2007)
FEBRUARIE 2007

‘n Doodse stilte daal meteens oor die mure.
In die hek staan Minieur Dipô. “Die wagwoord is vrede, né Mamina,” sê hy. Sy stem is sag, maar dit dra oor die hele stad.
“Jy is reg, Dipô,” antwoord Mamina.
"Ek en jy is die langste hier, Mamina. Wat moet ons met die byl maak?”
“Die antwoord is die Rison, Dipô,” sê Mamina.
“Ek het so gedink,” sê Minieur Dipô. “Kry alles reg,” bulder hy meteens. Sy wange blaas op soos hy brul. “As die son sak, gaan die byl in die Rison, saam met al die ander dinge wat ons nie nodig gehad het nie. En julle ysterklere gaan ook daarin, Brouers. Daardie tyd is verby.”
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Februarie, 2007)
MAART 2007

Toe die son daardie aand sak oor die stadsmure begin die optog van die stadsplein na die rivier. Die byl moet gebêre word in die Risonrivier. Die inwoners van O-Pi-Rison wil nie wapens in hulle stad hê nie.
Voor loop Minieur Dipô. Dan volg die Brouers. Die voorste Brouer dra die byl, toegedraai in die sagte beddegoed wat die Bekbesers geweef het. En die beddegoed is vasgebind met die helderkleurige ranke waarvan die Rankwewers die touwerke vleg. Die ander Brouers dra die ysterklere wat hulle nog gehad het hoog bokant hulle koppe. Die ysterklere is ook toegedraai en gebind en versier met ranke.
Dan volg die Rankwewers en dan die Bosbesers. Agter hulle loop Smirro omring deur die Plattiepote.
Kanja en Bernard loop heel agter.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Maart, 2007)
APRIL 2007

Die volgende oggend skyn die son weer, maar nog voordat die son Kanja kan wakker maak, roep Mamina haar en Bernard en die hele stad wakker: “Kom gou, Kanja!” skril Mamina. “Die Bonsbos dans om die stad.”
Almal klouter teen toulere af en by kliphuisies uit en storm mure toe. Maar Kanja en Bernard is heel voor, haar emmertjie in haar hand en Bernard se ogies nog dik van die slaap. Dit het nog nooit in die geskiedenis van O-Pi-Rison gebeur dat die Bonsbos na hulle toe gekom het nie.
En almal staan op die mure en staar verstom hoe Kanja en Bernard laggend agter die Bonsbos aanhardloop en hulle een vir een vir haar hulle blare afgooi wat sy versigtig optel en in haar emmertjie sit. Net mooi een emmertjie vol. Almal is uitbundig van blydskap dat die probleem van die bonsbos, wat verdwyn het, opgelos is.
Kanja se hart is ook vrolik, al is daar baie dinge wat sy nog nie verstaan of weet nie, maar vanoggend is alles reg in O-Pi-Rison. Alles is vanoggend meer as reg in O-Pi-Rison, maar nie vir lank nie. Dit gaan nooit altyd net goed nie. Daar gebeur ongelukkig altyd dinge waarvan mens nie hou nie, veral in ’n stad soos O-Pi-Rison, waar baie verskillende kreature saamwoon.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, April, 2007)