| Tuis/ Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. |
| Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
KANJA DIE DERDE
Martie Preller en Martie Kruger
Illustrasies: Heidi Fivaz
STORIE 1: JANUARIE 2006 - APRIL 2007
STORIE 2: MEI 2007 - APRIL 2008 Ongoing children's story in rooirose, a women's magazine. It is the story of Kanja the Third, Bernard the Guardian and other inhabitants of O-Pi-Rison, a city which can be found at exactly the place where the sea and the horizon meet. Kaart van O-Pi-Rison/Map of O-Pi-Rison MEI
2007 English Summary:

Alles is weer reg in o-Pi-Rison, nes dit altyd is.
Almal is gelukkig in O-Pi-Rison. Amper almal.
Die plattiepote vergader onder die bessieboom. Hulle is ligrooi van woede.
“Jou werklikwaar,” bulder Petalja Plattiepoot, “het julle dit nou gesien? Het julle gesien hoe behandel die inwoners van O-Pi-Rison ons? Ons is goed genoeg om die stad skoon te maak en om Meneer Bolwange se vuurtjie perfek te kry, maar vra iemand vir ons of ons ook van die bonsbos se blare wil eet?”
“Nee!” skreeu al die plattiepote saam. “Ons moet bessies eet!”
“Niemand steur hulle aan ons nie,” bulder Piekapoot. “Ek is sommer lus en gaan stamp Meneer Bolwange onderstebo. Ek kan maklik!”
“’Nee, o, nee, Piekapoot, dit sal nie reg wees as jy dit doen nie. Ek het ’n baie beter plan!” sê Petalja Plattiepoot.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Mei 2007)
JUNIE 2007

“Hoe lank gaan jy nog aanhou wonder?’ wil Bernard weet. “Sit my nou dadelik op die grond neer, dat ek teen die muur kan opseil en met die ou vrou gaan gesels. Dis baie vervelig hier by jou.”
“Die ou vrou is besig,” antwoord Mamina van die muur af.
“Niemand wil my hê nie,” sug Bernard en seil stadig teen Kanja af, totdat hy op die grond is. “Ek gaan nou wegseil en kom nooit weer terug nie,” sê hy hartseer. “Niemand is lief vir my nie.”
Kanja glimlag net ek kyk na Bernard.
Bernard probeer sy bes om te seil, maar hy vorder niks.
“Hoekom seil jy nie weg nie?” vra Kanja.
“Omdat ek nie kán nie,” knor Bernard. “Ek sit aan die klippe vas. Die plattiepote het nie behoorlik hier skoon gemaak nie …. HAAAAAI, KANJA!” brul hy meteens. ‘WAAR is al die plattiepote? Ek het dae laas ’n plattiepoot gesien!”
(Uittreksel uit die ROOIROSE,
Junie 2007)JULIE 2007

Minieur Dipô gluur Mamina aan. “Wat beteken ‘miskien’, Mamina? Wéét jy waar die plattiepote is of nie?”
Mamina draai haar kop skeef en staar Minieur Dipô aan met een blink oog. “Ek weet nie waar hulle is nie, Dipô, maar ...”
“Smirro, jy moet dadelik die plattiepote gaan soek,” val Minieur Dipô Mamina vererg in die rede.
Mamina se vere pof effens op en sy draai haar kop om met die ander oog na Minieur Dipô te kyk.
“Maar ek weet nie waar om hulle te soek nie,” kerm Smirro.
“Soek beteken soek, Smirro!” raas Minieur Dipô. “As jy iets moet soek, dan weet jy nie waar dit is nie. Gaan soek onmiddellik die plattiepote. Die morsige toestand waarin ons stad nou is kan nie geduld word nie.”
(Uittreksel uit die ROOIROSE,
Julie 2007)AUGUSTUS 2007

“Ek belowe jou, Bernard,” sê Kanja beslis. “Nes ons weer terug is in die stad sal ons vir Mamina vra wat aangaan en hierdie keer sal sy ons antwoord. Ek wil ook nou weet wat aangaan en wie die man is van wie niemand praat nie wat in die Hori-berge bly.”
“Sy sal jou nie sê nie. Jy sal verniet vra. Niemand sê ooit vir mens iets nie,” kla Bernard.
“Sy sal jou sommer nou sê,” sê Mamina agter hulle.
Kanja draai vinnig om. Bernard vlieg van haar hand af en trek deur die lug. Mamina vang hom kraaknetjies met haar een vlerk.
Bernard staar in Mamina se gesig. “Hier is die ou vrou wragtig,” fluister hy verstom.
“Ja,” antwoord Mamina. “Hier is die ou vrou. Ek dink dit is tyd dat ek julle meer vertel.”
Kanja se oë is groot. Mamina het nog nooit ooit van die muur afgeklim, waarvan sy weet nie.
(Uittreksel uit die ROOIROSE,
Augustus 2007)SEPTEMBER 2007

Mamina wip effens strammerig op een van die plat klippe en strek haar vlerk dat die punt aan die klip raak.
Bernard seil soos die blits van haar vlerk af tot op die klip. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar dan maak hy sy mond weer toe sonder dat daar ’n woord uitgekom het.
“Ja, Bernard, grynslag Mamina. “Wou jy iets gesê het?”
“Ek wil baie sê,” antwoord Bernard, “maar die woorde baklei in my mond. Almal wil eerste uitkom.”
Mamina sug en skud haar gemaklik in op die klip. “Ja, Bernard, dit is die probleem. Almal wil eerste wees.”
Kanja gaan sit sommer net daar op die grond en staar na Mamina. Bernard seil teen die klip af en tot by Kanja. Sy tel hom op en sit hom op sy gewone plek op haar kop. “Om te dink ek het op Mamina se vlerk gery,” lag Bernard meteens 'n effens senuweeagtige laggie.
(Uittreksel uit die ROOIROSE,
September 2007)OKTOBER 2007

Sy begin haastig vêrder stap deur die bosse in die rigting van die Hori-berge.
“Freek-Frik het die Verskriklike geword, daarom is hy nie meer die leier nie, maar hoekom is Mamina nie nog steeds die leier nie?” fluister Bernard.
“Omdat sy oud en deurmekaar geword het en nie meer so goed kon hoor nie,” kekkellag Mamina van die stadsmuur af. “Wees versigtig en kom terug met goeie nuus!”
Kanja skud net haar kop.
Bernard lag kliphard, maar hoe vêrder hulle loop hoe nader kom die Hori-berge en hoe stiller word hulle.
“Hoe voel dit om te weet jy is die leier van O-Pi-Rison?” wil Bernard naderhand weet.
“Ek is net besig om dit te word en dit voel niks anders as gewoonlik nie. Ons het werk om te doen. Ons moet die plattiepote gaan kry en uitvind wat aangaan," antwoord Kanja.
“Dit klink vir my na die regte antwoord,” antwoord Bernard, “maar ek hou jou dop in alle geval.”
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Oktober 2007)
NOVEMBER 2007

Kanja steek meteens vas, “Het jy dit ook gehoor?” fluister sy.
“Het ek WAT gehoor?” fluister Bernard beangs terug.
“Luister …” sê Kanja.
“Ek luister, maar ek wil nie hoor nie … daar is dit … wat is dit wat so maak?” Bernard duik binne-in Kanja se oor in.
“Dis iemand wat snork …” sê Kanja.
“Snork van woede?” vra Bernard benoud.
“Snork van slaap,” glimlag Kanja meteens en swenk skielik skerp regs agter ’n digte bos in. Sy trek van die takke van die bosse weg en kyk daardeur.
Bernard is te bang om te kyk, maar eintlik wil hy darem ook sien. Hy loer versigtig by haar oor uit. “Wat sien ons?” vra hy, want hy sien niks.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, November 2007)
DESEMBER 2007

Toe hulle naby O-Pi-Rison kom, hoor hulle die rumoer uit die stad. Daar is weer die een of ander ontsteltenis. Hulle kyk bekommerd na die muur van die stad. Mamina is nie daar nie. Waar sou sy nou wees? Al die inwoners staan rond in groepies en praat baie en hard en beduie woes. “Wat gaan aan?’ wil Kanja weet. “Waar is Mamina?”
Minieur Dipô kom aangestrompel en waai sy handjies verwilderd in die rondte. “Waar is die plattiepote?” vra hy ’n teenvraag.
Kanja rapporteer wat die plattiepote gesê het. Almal drom om haar saam om te hoor.
Minieur Dipô gooi sy handjies wanhopig in die lug. “Het almal nou gek geword?” vra hy histeries. “Mamina het besluit sy gaan bietjie vakansie hou by die fontein. Die plattiepote is vol nonsens en dis alles nou net een groot gemors. Ek is nou ook moeg vir alles. Ek gaan ook met vakansie. My senuwees is klaar.” Hy begin summier aanstrompel na die hek.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, Desember 2007)
JANUARIE 2008

Kanja stap weer haastig by die hekke uit. Dit voel vreemd dat Mamina nie op haar plek is nie. G’n wonder die inwoners was so ontsteld nie.
“Wat op aarde het die ou vrou besiel om met vakansie te gaan?” wil Bernard weet. “Is sy nie buitendien die hele tyd met vakansie nie? Sy doen mos nie eintlik iets nie.”
Bernard draai sy koppie skeef soos hy wag dat Mamina moet reageer, maar daar is net stilte.
“Hoekom praat die ou vrou nie,” gil Bernard meteens. “Dalk het sy iets oorgekom. Dalk het die Verskriklike haar gevang. Hardloop, Kanja.”
Kanja begin hardloop. “Moet jy nou nie gek word nie, Bernard,” sê sy.
“Maminaaaaa!” skreeu Bernard so hard as wat hy kan toe Kanja langs die kanaal afhardloop op pad na die fontein toe, maar daar is geen antwoord nie. Net die wind ritsel die blare van die bome.
Kanja gaan staan uitasem en dankbaar toe hulle by die fontein kom. Mamina is besig om met haar bek grassies en blaartjies rondom die fontein uit te pluk.
(Uittreksel uit die ROOIROSE, (Januarie 2008)
FEBRUARIE 2008

Kanja en Bernard loer weer deur die takke.
Het jy al ooit sulke snaakse voëls gesien, Kanja?” fluister Bernard.
“Nog nooit,” antwoord Kanja,” en hulle lyk nogal gemeen.”
“Ons weier om saam met julle te gaan,” hoor hulle Petalja Plattiepoot beslis sê.
“Dan sal ons julle een vir een uitmekaar skeur,” sê een van die vreemde voëls.
“Nee!” gil een van die plattiepote weer benoud.
“Kanja, ons moet iets doen, maar WAT?” fluister Bernard dringend.(Uittreksel uit die ROOIROSE, (Februarie 2008)
MAART 2008

“Maar wat van ons?” vra die vreemde voëls en kyk na Kanja.
“Wat is vir julle lekker om te doen?’ wil Kanja weet.
“Wel,’ sê die een, “ ons hou van sing … maar die een wat in die berge bly wil nooit hê ons moet sing nie. Hy bulder van die berg af as ons sing. Nou sing ons nie meer nie.”
“Maar dan kan dit julle werk wees om te sing,” sê Bernard vinnig, voordat Kanja dit kan sê.
Uittreksel uit die ROOIROSE, (Maart 2008)
APRIL 2008

Mamina is weer op haar pos op die muur.
“Het jy klaar vakansie gehou, Mamina?” skreeu Bernard.
“Ja, Bernard,” kekkellag Mamina. “Ek het almal gemis. Wel gedaan, Kanja en Bernard!”
“Ontmoet die nuwe inwoners van O-Pi-Rison,” lag Kanja. “Dis die singende vreemde voëls.”
“Hoekom mag hulle sing en nie ek nie,” brom Minieur Dipô dikbek.
“Omdat hulle KAN sing, Dipô, sê iemand luid “en buitendien is dit jou werk om die bonsbosblare te kook nie om te sing nie …”
Minieur Dipô bol sy wange nors. maar dan sê hy skielik. “Dalk kan ek dans terwyl hulle sing …”
Uittreksel uit die ROOIROSE, (April 2008)