Tuis/
Home
Martie

Balkie

 

Babalela

 

Jamie&
Sebastiaan
Boeke/
Books
Skryf? Hoe?/
 Creative writing
 

Eendag was daar .

 

Ens./Etc.Skryfsels/
Diverse Writings
Boekplekke/
Book Places
Kanja die Derde


      

Die nuwe Kurrikulum en lees 

(Beeld het op 10 Mei 2005 'n verkorte weergawe hiervan in die Briewekolom gepubliseer. In Junie 2005 is die volle weergawe in Die Burger gepubliseer)  


English Summary

My opinion about the new Curriculum. I have been very involved in the writing of "educational" books the last two years and had to make a thorough study of the Curriculum. I can identify with its ideals and visions etc completely.  Reading as wide an assortment of books as possible will help to feed the minds of our children (and all of us!) in order to form a balanced perspective on life where there is place and time and respect for everyone. New times and new challenges for all of us: writers and illustrators, parents and learners, publishers, teachers and organizations to support battling libraries. 


Ek was die afgelope twee jaar betrokke by ‘n reeks lees/leer/ontdek Balkieboeke vir die skole. Ek het so pas ‘n onderwysergids vir my nuutste boek Die hart van Zeebak  geskryf. Ek moes dus die nuwe Kurrikulum intensief bestudeer en toepas.

Die nuwe Kurrikulum is wonderlik. Ek kan volkome met die ideale, visie, leeruitkomste ensovoorts identifiseer.

Dit het nuwe tye vir ons almal gebring. Die onderwyser is nie meer veronderstel om “alwetend” te wees nie, want die onus om te leer val op die leerder. Hy/sy is die een wat kan baat by die geleenthede wat die skool en die onderwysers hom/haar bied. Vanselfsprekend is niks perfek nie, maar geleenthede is daar  en kan gebruik word - of nie. Dit is die leerder se keuse.

Die leerder word “geken” in die leerproses. Sy/haar gemotiveerde en beredeneerde opinie is van belang. Maar dis ‘n gemotiveerde en beredeneerde opinie, nie somaar net lukraak idees nie. (Lukrake idees  is wel nuttig om stories van te maak!)

Onderwysers moet opinies van leerders kan assesseer, wat weer behels dat hulle  gemotiveerde en beredeneerde opinies moet hę. Die nuwe kurrikulum vra wedersydse respek. Dit vra openlike en eerlike dialoog  en aanvaarding van die mense betrokke. Maar opinies moet sin  maak, nie net uit een persoon se perspektief nie, maar uit die oorkoepelende perspektief van respek vir almal.

Die onderwyser is nie meer altyd “reg” en as die leerder nie presies antwoord wat die onderwyser “wou gehad het nie” is dit “verkeerd” nie. Mense is nie optel/aftrek/deel of maal somme nie. Maar dit beteken ook nie enigiets is aanvaarbaar nie. Steeds en altyd moet ons die “beste” wat ons kan gee. Maar elkeen besluit self wat hy/sy uit die skool en uit die lewe haal en daarin terugsit. Ons kan veronreg wees, of ons kan gebruik wat daar is. Dis elkeen van ons se keuse. En dit word vergestalt in die nuwe Kurrikulum.

Dis ‘n uitdaging vir ons almal om ons ding te doen. Ouers om positief te wees, nie kant te kies nie, kinders perspektief te leer deur self perspektief te hę. En hulle kinders bloot te stel aan die wye węreld wat boeke bied, sodat kinders/jongmense wyer kan leer dink en sien as net hulle eie klein węreldjie. Uitgewers om so ‘n groot moontlik verskeidenheid boeke uit te gee en te bemark. Skrywers en illustreerders om die beste te gee wat hulle kan. Ons almal om ons eie plaaslike mark te ondersteun. Wat van oorsee af kom is nie noodwendig  “beter” nie. En om die boeke wat ons het, te deel met ander deur leeskringe en belangegroepe en biblioteekondersteuningsgroepe.

Ons moet almal “kunsmatige” grense afbreek. Wanneer laas het jy  ‘n “kinder/jeugboek” gelees? Of dink jy dis nie vir jou “bedoel” nie? Dit is dan jou keuse. Goed dan so. Maar maak dan ten minste vir jou kind nuwe węrelde oop – deur positief en entoesiasties  te wees waaroor jy kan positief en entoesiasties wees. Want dit wat die nuwe Kurrikulum “vra” van die leerders naamlik gemotiveerde en beredeneerde opinies, kan gevorm word deur kinders/jongmense bloot te stel aan die karakters en węrelde wat in boeke ontvou. Mense net soos ons. In plekke amper soos ons s’n. Perspektief! Daar is baie soorte mense op hierdie aarde. “Leer” hullle om te aanvaar en te onderskei met wie hulle wil saamdoen en saamleef, ook deur wat jy doen. Lees bied die geleentheid vir kinders/jongmense (en almal van ons) om “veilig” wyer te ervaar wat dan ons opinies stewiger kan “beredeneer” en “motiveer”.

Martie Preller

Johannesburg

10 Mei 2005

Terug na/Back to 

Skryfsels/Diverse Writings