Tuis/
Home
Martie

Balkie

 

Babalela

 

Jamie&
Sebastiaan
Boeke/
Books
Skryf? Hoe?/
 Creative writing
 

Eendag was daar .

 

Ens./Etc.Skryfsels/
Diverse Writings
Boekplekke/
Book Places
Kanja die Derde

 

STORIES IS KOS! DIE WAARDE VAN LEES EN DIE SKEP VAN ‘n LEESKULTUUR. 

‘n LEESREVOLUSIE?   


English Summary

My opinion about the immense practical value reading can bring to people and suggestions of ways and means to bring about informal structures consisiting of parents and grandparents and other interested parties to spread information about the value of reading and to bring support and aid to battling libraries and so encourage a reading revolution in our country. Talking doesn't amount to much - action speaks louder than any words. 


Ons land het geen leeskultuur nie en wat ook al die redes daarvoor is, is dit  ‘n voldonge feit. Hoe om iets daaraan te doen, is die groot probleem wat baie, baie mense en instansies op verskillende maniere probeer aanspreek. 

Die waarde van lees is al oor en oor gedokumenteer. My bydrae is kortliks die volgende:

a) Ons het net een lewe en een lyf en kan dus beperk kontak maak met ander mense en sodoende blootgestel word aan situasies waaruit ons ervaring kan opdoen en kan leer. Lees bied  ‘n ryk blootstelling aan ‘n verskeidenheid van lewenskarakters en lewenssituasies. Deur die identifisering van die leser met die karakters, doen die leser addisionele en “veilige” ervaring op en verkry hy/sy praktiese lewenswysheid.

b) Alle boeke, ook dié waarin daar fantasie, futuristiese of dierekarakters in voorkom is lewensgerig. Hulle spieël die menslike lewe op die een of ander “storiemanier”.  Dit kan nie anders nie, want skrywers is mense wat in die “werklikheid” leef en ander węrelde verbeel.  

c) Die nuwe kurrikulum vereis van die leerders om eie gemotiveerde opinies te hę. Gemotiveerde opinies word gevorm deur blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid van ervarings sodat daar kennis geneem word van ander situasies en perspektiewe om dan sodoende ‘n eie gemotiveerde opinie in te neem wat nie alleen die self nie maar ook ander se perspektiewe respekteer. Ons is op slot van sake nie alleen op hierdie węreld nie.

d) Lees is dus huidiglik nog meer belangrik as ooit vantevore.

e) In ons tyd het die TV en rekenaarspeletjies groot aantrekkingskrag veral vir kinders en jongmense. Die waarde van moderne tegnologie mag nie onderskat word nie. TV en rekenaarspeletjies bied ook blootstelling aan ander węrelde en virtuele of verbeeldingswęrelde. Dit moet net parallel loop met boeke en nie ten koste van boeke nie, want elkeen van hierdie mediums het sy eie voordele en nadele.

            i) Boeke bied die gebruik en die ontwikkeling van die verbeelding op enorme skale. Met die TV en rekenaarspeletjies word klaar produkte aan die kykers of spelers gegee. Die kyker of speler se verbeelding word nie direk geaktiveer nie. Behalwe vaardige aksie en besluitneming in rekenaarspeletjies, vra hierdie mediums niks meer as passiewe kyk nie. Ben Okri het die volgende te sę oor die rol van die leser in lees:

The writer, functioning in a magical medium, an abstract medium, does one half of the work, but the reader does the other. The reader's mind becomes the screen, the place, the era. To a large extent, readers create the world from words, they invent the reality they read. Reading, therefore, is a co-production between writer and reader. The simplicity of this tool is astounding. So little, yet out of it whole worlds, eras, characters, continents, people never encountered before, people you wouldn't care to sit next to in a train, planets that don't exist, places you've never visited, enigmatic fates, all come to life in the mind, painted into existence by the reader's creative powers. In this way the creativity of the writer calls up the creativity of the reader. Reading is never passive.

(Ben Okri: A Way of Being Free, Phoenix,  1989, p. 41)

            ii) Hoe belangrik is dit om verbeelding in kinders aan te wakker? Lei dit hulle nie juis tot ontvlugting van die werklikheid nie? Inderdaad nie.

Verbeelding hou direk verband met kreatiewe oplossings vir probleme want ander moontlikhede kan verbeel word en ondersoek word. Verbeelding is dus nie net van toepassing op die sogenaamde “kuns” rigtings nie, maar is orals ter sprake in die beroepswęreld: die besigheidswęreld, entrepreneurskap, die wetenskap, omgewingsbewaring, die mediese wetenskap – letterlik op alle terreine van ons lewens en beroepe.

Albert Einstein se bekende woorde: “ Verbeelding is belangriker as kennis” moet weer onthou word.

OUER, GROOTOUER  EN GEMEENSKAPBETROKKENHEID

Die primęre verantwoordelikheid om kinders bloot te stel ook aan die bekoorlike węreld van boeke, lę eerstens by die ouers wat almal vir hulle kinders net die beste wil hę en gee. Daarom moet ouergemeenskappe geaktiveer word om ons leeskultuur te bevorder, ter wille van hulle kinders. Die maniere waarin hulle dit kan doen, moet self bepaal word. Enige “aksie” begin by individue wat bydraes lewer en dan saamgebind word met ander met soortgelyke ideale in organisasies wat groter verandering te weeg kan bring.

Individuele en georganiseerde aksiegroepe oupas en oumas met dikwels meer beskikbare tyd, kan ook hiertoe ‘n lewenskragtige bydrae lewer.

Moontlikhede:

a) Individuele ouers moet kinders na biblioteke neem en hulle in staat stel om boeke uit te neem. Dit vir hulle voor te lees, self te lees en boeke en aangeleenthede in boeke te bespreek. Sodoende word gemotiveerde opinies gevorm en familiebande word versterk.

b) Aksiegroepe kan gestig word om geld in te samel om biblioteke te help om nuwe boeke aan te koop.

c) Die wat dit kan bekostig moet boeke vir hulle kinders koop. Kinders ontgroei boeke dalk (so word  soms gemeen) maar indien wel, is daar altyd ander kinders vir wie sodanige boeke dan gegee kan word. Ons kinders ontgroei ook hulle klere, maar ons laat hulle nie daarom kaal rondloop nie.

d) Leeskringe kan kindergroepe aanneem en saam met hulle eie liefde vir lees ook hulle liefde deel met ander en hulle begeester en prakties bystaan. Entoesiasme is aansteeklik. Nes vigs,

ALMAL SE BETROKKENHEID

Almal wat spesifiek belang het by lees het ook ‘n verantwoordelikheid: skrywers om te skryf, illustreerders om te illustreer, uitgewers om uit te gee, bemarkers om te bemark, koerante en tydskrifte om blootstelling te gee (as ons jong lesers kweek, lees hulle uiteindelik ook koerante en tydskrifte), biblioteke om inligting oor die waarde van lees aan almal te bied  en boekwinkels om te verkoop. Daar word dikwels beweer dat veral Afrikaanse kinderboeke nie verkoop nie. Sommige statistiek bewys die teendeel indien die boeke “sienbaar” aan kopers aangebied word en nie in die agterste, onderste rakke met rugkante na die kyker, gebęre word nie. Vanselfsprekend het boekwinkels ook hulle eiesoortige probleme, soos almal, met onder andere rakruimtes ens. Maar indien mense nie van boeke weet nie, is daar geen manier waarop hulle dit kan koop nie. Aan die ander kant ... as jy soek, sal jy dalk vind!

Alle mense wat dus wat ‘n passie het vir ons kinders en hulle ontwikkeling deur lees, kan dus saam met die ouers hulle bydraes lewer, elkeen na die aard van sy/haar belangstelling, aanleg en vermoëns. 

Almal wat betrokke is by die welvaart en ontwikkeling van ons land se mense het ook ‘n verantwoordelikheid – met ander woorde ook munispale en nasionale regeringsliggame.

Maar ‘n verandering in die houding oor die waarde van boeke en lees – soos alle revolusies, begin in die kleine. By individue. By ouers en kinders. Op hierdie manier kan ons dus almal saam, dalk, ‘n verskil maak aan ons eie lewens en aan die van ons kinders. Dikwels is daar een of twee entoesiastiese persone wat dit op hulle neem om dinge te organiseer, wat fantasties is, maar om werklik sukses te behaal moet almal DEELNEEM nie net ‘n passiewe (of afwesige) gehoor wees nie. 

Martie Preller

Julie 2005  

Terug na/Back to 

Skryfsels/Diverse Writings