Tuis/
Home
Martie

Balkie

 

Babalela

 

Jamie&
Sebastiaan
Boeke/
Books
Skryf? Hoe?/
 Creative writing
 

Eendag was daar .

 

Ens./EtcSkryfsels/
Diverse Writings
Boekplekke/
Book Places
Kanja die Derde

      

VAN PEANUTS EN BABALELAS

soos dit  verskyn het as die agterblad van die Die Taalgenoot, Maart 2005


English Summary: 

Thoughts and feelings about becoming a grandma for the first time 


My kleinkind was ‘n peanut. Op die sonarprentjie wat die kinders vir my gefaks het na Gordonsbaai. Nie dat ek seker was WATTER kolletjie die peanut was nie. Maar een van die baie spikkels en kolletjies en skaduwees was HY. Ek het die prentjie van alle kante beskou. Met en sonder my bril. Die kinders het beduie oor die foon en ek het naderhand gemaak asof ek weet watter kolletjie die peanut -  HY - was. Mens kan darem nie SO ‘n dom ouma wees nie. Magtie.  Die prentjie het vir my meer gelyk na ‘n vreemde rorsach toets. Ek het ALLES gesien behalwe ‘n peanut. Of dalk BAIE peanuts.

Later het ek ‘n video gesien. Van HOM. En ek HET ‘n voet en ‘n handjie gesien. Dink ek. “Ja. Ja,” bevestig ek. “Ek het gesien.” Dink ek, voeg ek woordeloos agterna. In my dae was daar nie sulke goed nie, brom ek verder woordeloos. maar hy is daar, êrens in ‘n vreemde skemer borrelende en suisende wêreld van sy eie.

En toe is hy gebore. En vir seker kon ek hom SIEN en HOOR. En vashou. En vrees dat ek gaan neerslaan met hom in my arms. Nie dat dit my gewoonte is om neer te slaan nie, veral nie met ‘n kind in my arms nie. En onder my oë word hy groter by die dag. En hy doen die dinge wat alle kinders doen. Nie dat hy enige kind is nie. Hy is my KLEINKIND en daarom pragtiger en slimmer as ENIGE ander kind. Ek is ‘n PYN. Ek sien hoe mense ordentlik geïnteresseerd probeer luister en kyk na die foto’s, maar dit sit nie my nie af nie. O nee. Ek is ‘n OUMA.

“Hoe voel dit om ‘n ouma te wees?” wil almal weet. Ek staar hulle geskok aan. Hoe voel dit? Ek het geen idee nie. Dis die wonder van die lewe  in my arms. Die wonder van die lewe gooi op my op en ek knip nie ‘n oog nie. Die wonder van die lewe speel met my selfoon en dié raak verward van al die kwyl en spoeg. En doen vreemde dinge. Ek wonder of die sel nou dalk baba-kodes kan ontsyfer met dié dat dit nou baba-bestandele in sy binneste êrens het. Ongelukkig kan ek nou nie meer bel nie. Die baba kry sy eie speel- sel. Maar myne is mooier. Maar ek moet kan bel. Nee. Ek en sy ma skud ons koppe.  Hy skud sy kop as hy nie wil eet nie.  Hy word bemagtig om –nee- te kan sê.

My mond hang oop. Ek kan nie ophou kyk nie. Dis die wonder van die lewe weer onder my neus. En ek het ‘n neus en hy het ‘n neus. En die kat. Soort van. En hy druk neuse en alles wat lyk soos knoppe en knoppies met sy duimpie om te kyk watse geluide dit maak, vermoed ek. Die babas van die elektroniese eeu. Speelgoed maak ‘n verskeidenheid van geluide. Watse geluid sou neuse maak?

Na ‘n speelsessie duik ek vir my bed. Magtie. Ek is nie meer baba-fiks nie. Net ‘n ouma. Hoe voel dit om ‘n ouma te wees? Ek het geen idee nie. Hoe voel dit om ‘n mens te wees? Hoe voel dit om ‘n ma te wees? Hoe voel dit om JY te wees?

Ek sit ‘n mariebeskuitjie tussen sy toontjies. Hy lag. Gaan hy nou dink mariebeskuitjies moet tussen tone aangebied word? O, wat dink hy? Hoe sien hy die wêreld? Hoe sien ek die wêreld. Hoe sien JY die wêreld? Hoe voel dit om ‘n ouma te wees? Ek het geen idee nie.

Ek begin bekommerd  raak. Hoe VOEL dit? Hoekom weet ek nie? Weet ander mense? As kind het dit altyd vir my gevoel asof ander mense PRESIES weet wat hulle doen, net ek het geen idee nie. Want hoe sal mens weet? Totdat ek met verstomming agtergekom het dat ander mense weer dink EK weet wat ek doen. Hoe sal ek? Die lewe is ‘n vreemde plek. Elke dag is nuut. En ons is so baie dinge. Onder andere ‘n ouma. Hoe voel dit? EK WEET NIE.

En ‘n geoefende ouma bring uiteindelik insig. Kleinkinders maak jou ‘n ouma, sê sy rustig. Elke dag meer en meer. My kinders het my ‘n ma gemaak. En my kleinkind maak my ‘n ouma. Dit maak wonderbaarlike sin. Die lewe maak ons mense.  Elke dag. En ons beleef elke dag die wonder en vloeibaarheid van die lewe. Of ons ‘n kleinkind het of nie. Dis net weer ‘n wonder –like geleentheid om die lewe te beleef. Deur die oë van ‘n kind. Waar ons almal neuse het. Ek het weer ‘n eie klein Babalela. En ek is ‘n babalela. En ons was almal peanuts.

(ongeredigeerde weergawe)

 

Terug na/Back to 

Skryfsels/Diverse Writings