| Tuis/ Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. | Skryfsels/ Diverse Writings | Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
DIE STORIEBOK
van skrywers en drome
Oudtshoorn 2003. Die Klein Karoo Kunstefees. Malende menigtes wat op die oog af koersloos ronddwaal tussen stalletjies met ‘n vetkoek/worsrol en koeldrank in die hand. Onder bome sit en luister na ‘n man met ‘n kitaar en woorde vol verlange. Klein bruin kindertjies wat op sypaadjies allerelei kaperjolle maak of in saamgeflanste klein koortjies, ook sing. Ek kan nie alles inneem nie. Te veel mense. Te veel. Te veel. Ek vlug wanneer ek ookal kan na die stil, groot huis met die breë stoep wat NB-Uitgewers gehuur het vir die duur van die Fees om hulle skrywers, redakteurs en bemarkers te huisves.
Ons kom boeke bekendstel. Nuwe boeke. Nuwe stories, vir oud en jonk. ‘n Verskeidenheid van stories.
Ek sit op die stoep en drink koffie. Kyk na Oudtshoorn en die malende menigtes wat nou onder my lê. Na die ver rantjies waar die Klein Karoo verder strek.
Hennie Aucamp daag ook op. Vir die bekendstelling van sy nuwe boek. Dis vir my ‘n voorreg om hom te ontmoet. Hy het blink oë, soos die van ‘n kind. Soos die kinders vir wie ek stories skryf.
Ek beweeg in die klein kring van Kinder- en Jeugboekskrywers en het min kontak met ander skrywers.
Ek maak vir hom koffie en ons sit op die stoep. Hy vertel in sy keurige Afrikaans met soveel deernis en respek van mense wat vir my net name op boeke is. Van Alba Bouwer, wat hy ken. Ek het verlede jaar die Alba Bouwer Toekenning gekry vir my “Balkieboek.”. Net voor die KKNK het ek gehoor dat die Tienie Holloway Medalje aan twee van my prenteboeke toegeken is. Meer as die “eer” van die toekennings, is dit vir my besonders dat my naam en die van my boeke op so ‘n manier gekoppel word aan die name van vroue wat hulle ding gedoen het op soveel terreine. Nou kry my “toekennings” vir my nuwe dimensies wanneer ek luister na sy stem en woorde. En terwyl ek kyk na sy blink oë. Die oë van ‘n kind wat nog kan opgewonde word. Wat steeds en altyd nog soek na nuwe betekenisse, na nuwe maniere van kyk na ons realiteit. Wat steeds nog nuwe stories maak uit ou stories. En die ou stories vind in nuwe stories.
Die volgende oggend is ons alleen om die ontbyttafel. Tussen roosterbrood en marmelade en roereiers en koffie vertel hy my van sy droom die vorige aand: Hy het gedroom dat daar ‘n bok is wat magiese kwaliteite het. Maar die mense het gedink dat die bok reeds uitgesterf het. En toe ontdek kinders klein bokkies in ‘n skuitjie wat iemand besig is om uit te smokkel uit die land.
Hy vertel dat sy stories dikwels begin met ‘n droom en dat hy dan daaraan werk en die storie voltooi. Hy kyk na my en glimlag. “Maar ek dink ek moet hierdie droom vir jou gee,” sê hy. “Sodat jy dit kan klaarmaak.”
Niemand het nog ooit vir my ‘n droom gegee nie. Dit voel asof hy hy iets in my hande gesit het. Al het ek net ‘n sny roorsterbrood in my hande.
Wat sou die storie wees van die magiese bok, wat almal gedink het uitgesterf het, maar tog nog met ons is? Klein bokkies wat die kinders gekry het. En wie sou so gemeen wees om die bokkies weg te vat van die mense wat dit dalk nodig het? Het ons nie almal magiese bokke nodig nie?
Die KKNK-tyd van 2003 is verby en ons groet en gaan huis toe. ‘n Tyd is verby, vir altyd. Presies so sal dit nooit weer kom nie.
Ek wonder oor die storie van die bok.
'n Paar weke later bel Hennie. Hy het ook weer gedink oor die storie van die bok. Miskien speel die storie in Griekeland af? Op die Griekse eilande? Ons gesels nog, maar ek weet nie wat die storie van die bok is nie. Ek was nog nooit in Griekeland nie. Ek ken net Boerbokke.
Ek wonder nog oor die storie van die bok. Intussen skryf ek ander stories. Die dae gaan verby. Die weke gaan verby.
En dan weet ek. Dis ‘n Storiebok. Dis Hennie se droom. Maar ook my droom. Dis hoekom hy die droom vir my gegee het. Skrywers weet van die Storiebok. Nie die Judasbok nie. Die Storiebok. Die een wat almal gedink het uitgesterf het. Want is stories en boeke nog belangrik? Is skrywers wat daglank en naglank stories soek ’n uitsterwende spesie? Skrywers wat stories droom en stories soek op ver en naby plekke.
Die skurke in die verhaal wil die klein bokkies uitsmokkel. Maar die kinders kry die bokkies. Die kinders met die blink oë. Hulle kry die klein bokkies en gee die stories terug aan die mense wie se stories dit is. Nie net een bok nie. Maar baie klein bokkies wat bokspring oor die bladsye van boeke.
Hennie Aucamp se storiebokke het aangeteel. Almal weet van hulle. Die man met die blink oë weet van stories. Hy weet waar om hulle te kry. Op ver plekke en op naby plekke. Soms in die vroegte van die oggend. Op ‘n stoep in die Klein Karoo. As ons drome nog vars in ons lê. En hy gee hulle aan. Sy hande is vol drome en stories.
Tafelberg-uitgewers het twee van my boeke bekendgestel op die KKNK. Die een gaan oor hoe om stories te maak. Die ander een is ‘n prenteboek. Vir kinders van alle ouderdomme. Die prenteboek se naam is: “Ek is Simon.”
Hy is Hennie. En hy weet van die Storiebok. Hy deel drome en stories.
Terug na/Back to