| Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. |
| Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
wie wil nou "sensible" wees?
DIE "TAALDEBAT" .... 'n MOONTLIKE LANGTERMYN-OPLOSSING? Hennie Aucamp het in September 2005 in die Burger in ‘n brief gevra of poësie die enigste bedreigde genre in Afrikaans is en gepleit dat nie een genre ten koste van die ander afgeskeep moet word nie.
Ja, Ja. Nie een genre ten koste van ‘n ander nie. Ons het alles en almal nodig! ‘n Verskeidenheid!
Ek sou ook egter net die Afrikaanse Kinder- en Jeugliteratuur wou byvoeg by al die ander genres wat hy noem.! Ek haal aan uit Hennie se brief: “Dit gaan hier doodgewoon om verstandige langtermyn-politiek,” verwysende dan na die behoud van al die genres.
Maaaaar: gepraat van ‘n langtermyn-politiek!!!!!
Lesende klein/jongmense word lesende grootmense!
Lesende klein/jongmense word lesende boeklesers, koerantlesers, tydskriflesers!
Lesende klein/jongmense “leef” weer ‘n liefde vir woorde by hulle eie kleinmense as hulle grootmense word en dan word daardie kleinmense weer grootmense .... en daar gaaaaan ons.
Natuurlik sal Afrikaans nie uitsterf nie! `
Maar daar is nie Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie, sê baie mense. Daar is! Maar mens moet hulle dikwels soek! Soek mens nie iets wat vir jou kosbaar is totdat jy dit kry nie?
Daar is nie genoeg Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie – nie ‘n groot genoeg verskeidenheid nie, sê party mense.
Maar as meer mense dit wat daar is, koop, gaan daar groter verskeidenheid kom! Dit gebeur tog so met enige produk? As daar ‘n aanvraag is ...
Die “taal”debat? Kan iemand nie ‘n reël maak, dat elkeen wat deelneem intree”geld” moet betaal deur eers Afrikaanse boeke te koop nie? Eers as jy tien boeke (van elke genre ten minste een!) op jou boekrak het, mag jy ‘n brief skryf en kla! Of as jy aan ‘n Biblioteekondersteuningsgroep behoort wat geld insamel vir die plaaslike biblioteek om meer boeke te koop. Of as jy een keer ‘n maand ‘n boek gee vir iemand wat dit nie kan bekostig nie. Dan mag jy kla! Mens kan so ‘n “puntesisteem” opbou waar jy “punte” kan versamel en die wat die meeste doen mag die meeste praat! Praat is nie doen nie! Baie mense dink dit is! Dit is nie! Praat kan inspirerend wees. Of afbrekend. Maar dis nie doen nie! Behalwe as jy praat vir ‘n lewe en dit jou werk is! En selfs dan?
Natuurlik is nie ek nie ernstig nie! Maar ek is!
Ek soek kampvegters vir Afrikaans! Onbetrokke kampvegters! Wat help dit as ek, wat ‘n kinder- en jeugboekskrywer is, kampveg vir die kinder- en jeugboeke? Ek is mos bevooroordeeld. Ek wil net hê mense moet my boeke koop!
Natuurlik is ek nie ernstig nie! Dalk is ek?
Skrywers/Digters begin vir my meer en meer ook soos ‘n bedreigde spesie lyk!
Hoe “red” ons hulle? Moet hulle “gered” word?
Ons moet jonges van die spesie soek! Maar sal die jonges belangstel as die oues spartel om darem net iets finansieel terug te kry vir die enorme energie en tyd wat in 'n boek ingaan? Die vreugde lê in die skryf (die "agony and the ecstasy") maar tyd is nog steeds al wat ons het, en mens wonder soms of dit die moeite werd is. Dan hou mens op om daaroor te wonder en jy wonder maar liewers oor ... nog 'n storie! :
It takes a lot of energy and a lot of neurosis to write a novel . . . if you were really sensible, you'd do something else.
Lawrence Durrell
Jip. 'n "Novel" (neem ek aan, want ek weet nog nie) of 'n prenteboek, of 'n kinderboek, of 'n jeugboek of storiereekse. Daarvan weet ek. Maar
Perspektief: 'n Prenteboek soos Babalela kan gesien word as 'n "topverkoper". Dit het oor die 16, 000 eksemplare verkoop in 5 jaar. Dit is huidiglik in sy vierde druk. En dis nie in skole waar klompe boeke op 'n slag verkoop word nie. Dis een vir een. Dis indrukwekkend en uitsonderlik. Maar: die "gewone" eerste oplaag van meeste boeke is 2000-3000. Uitgewers en skrywers is dankbaar as 'n boek se eerste druk uitverkoop. En hoeveel mense is daar wat Afrkaans praat? Hoeveel kinders? En boekwinkels kry gewoonlik meer per boek wat verkoop as die skrywers! Maar genoeg gesanik! Al moet mens soms ... en inderdaad - wie wil nou "sensible" wees en buitendien moet 'n Haas doen wat 'n haas moet doen!
Wat sê die mense met die ervaring van wat “lees” vir hulle gedoen het? Die “onbetrokke” kampvegters!
Ek, as mens, kan onomwonde verklaar dat boeke my lewe gered het toe ek ‘n kind was. Want in die “lewe” het dit gelyk asof elke liewe mens presies weet wat hulle wil en waarheen hulle gaan. Net ek was van twyfels aanmekaar gesit. Hoe werk die lewe? Wonder ander mense nie ook nie? Twyfel ander mense nie ook nie?
En oooo, dankietog! In boeke was daar karakters wat nes ek gevoel en gedink het! Wat ook dikwels nie eintlik geweet het wat aangaan nie!
En die ergste was toe ek agtergekom het ander mense dink weer ek weet wat ek doen! Ek lyk vir ander net so soos ander vir my lyk!
En nou nog. Ek lees die koerante. Ek lees die briewe op Litnet. My mond hang oop. Soveel mense. Soveel opinies. Dis oorweldigend! Soms stem hulle saam. Soms wil hulle mekaar verbrysel. Elkeen uit ‘n ander perspektief. En reg ook so, want ons hét elkeen ‘n ander perspektief! Ons is mos elkeen uniek! Elkeen het ‘n ander geaartheid, ‘n ander persoonlike geskiedenis en ander ervarings.
Moet mens nie maar net kennis neem van ander se opinies nie en hulle nie wil platklap omdat hulle anders dink nie? Ons is elkeen anders! Dis waarom daar so baie stories is! Maar ons “verstaan” ook stories, want ons is almal mense! Ons is almal eenders ook: Mense wat spartel om te leef so goed ons kan.
Moet ons nie net kennis neem van ander se opinies en dan met oorgawe ons eie ding doen nie? En sal al die klein “doene” dan nie dalk nie saam ‘n sterk welluidende koor maak nie? Wat gehoor sal word? Eendrag maak mag?
Maar hoe nou gemaak? Ons sit elkeen in ons eie klein lewe vasgevang. Binne ‘n samelewing wat meestal maar uiters verwarrend is. Binne ‘n wêreld wat vir seker uiters verwarrend is! En hoe verwarrend moet dit nie vir klein/jongmense wees nie? Die lewe is vir my ook nog steeds ‘n deurmekaarspul en ek is al ‘n ouma en seker veronderstel om van beter te weet! Helaas!
Nou sit ek my oogklappe aan, want ek het nog steeds nie ‘n idee hoe “werk” die lewe nie en ek soek nog ‘n storie. Ek probeer “teruggee” wat ek gekry het. Op my manier. Stories is wonderlik. Stories maak dimensies oop. Stories bring ander perspektiewe behalwe jou eie. Stories haal ons uit bokse van benoudheid. Stories is kos. Stories kan mens laat asemhaal. Stories maak jou bewus van die ruimte wat ons nodig het om te leef. Stories verander ons lewens, daarvan kan ek getuig!
En hoe heerlik om te kan lees en skryf in die taal wat jou hart praat.
Martie Preller
Oktober 2005
Terug na/Back to