| Tuis/ Home | Martie |
| Jamie& Sebastiaan | Boeke/ Books | Skryf? Hoe?/ Creative writing |
| Ens./Etc. |
| Boekplekke/ Book Places | Kanja die Derde |
RUBRIEK VAN WILHELM JORDAAN IN BEELD
In die rubriek Kopstukke (Beeld, 21 Januarie) skryf Willie Burger wie aan die leesritueel deelneem en oopgestel is vir 'n goeie roman, ontdek dalk 'n perspektief wat verder strek as net selfbelang: 'n verrukking wat lei tot verandering.
Waarin lê dié oopstelling en verrukking? Allereers daarin dat die leesritueel 'n bietjie mistiek bevat. Soos Carlos Zafón dit verwoord in sy roman The shadow of the wind. Hierin word vertel van 'n pa wat sy tienjarige seun na die "begraafplaas van vergete boeke" neem. Hy kniel langs sy seun en sê in dieselfde gedempte stem waarmee hy geheime en beloftes meedeel: "Hierdie plek is vol misterie. Dit 'n heiligdom. Elke boek wat jy hier sien, het 'n siel. Die siel van die een wat dit geskryf het en die siel van hulle wat dit gelees, daarmee saamgeleef en daarin gedroom het. Elke keer as 'n boek gelees word, word die gees daarvan sterker."
Oopstelling vir 'n roman, verrukking en moontlike lewensinsigte wat daaruit kom, geskied daardeur dat dit die leser op drieërlei maniere kan aanspreek.
Eerstens, die roman as spieël. Soos wat jy lees - die intrige(s) begin verstaan; wat die verskillende karakters met hul optrede, houdings en woorde se aandeel daarin is - ontdek jy iets van jouself (of iemand anders), en jou of 'n ander se omstandighede. Dermate dat jy wil uitroep: "Só is my/sy/haar lewe. "
Om só in die verbeelding na te voel en na te dink wat 'n ander voel en dink, is 'n soort lewensdidaktiek wat kan maak dat jy in die lewe, buite die roman, met groter bewustheid en begrip leef en sagter met ander én jouself omgaan.
Tweedens, die roman as 'n lens. Die funksie van 'n lens is om iets wat onduidelik of dof is tot helderheid te bring. Soos wanneer 'n skrywer woorde en beelde vind wat uitdruk wat lesers aanvoel, maar self nie kan verwoord nie.
Só gebeur dit byvoorbeeld in Etienne van Heerden se roman, In stede van die liefde, waarin onder andere die proses van gestadigde "verglyding" in die lewens van die karakters, Christian en Christine, en van die ganse samelewing (die nuwe Suid-Afrika) beskryf word.
Die karakters se name roep die gees van 'n ou boek op - John Bunyan se Pilgrim's Progress ( 1678). Maar anders as in Bunyan se boek eindig die Van Heerden-"pelgrims" se "reis" in 'n vraagteken - ver weg van Bunyan se "glansende engele by die hemelpoorte."
Derdens, die roman as 'n kristal. 'n Kristal het dié eienskap dat dit elke keer met die optel daarvan nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat. Vele romans, veral dié met 'n magies-realistiese lading (soos Haruki Murakami se Kafka on the shore), is soos 'n kristal in die hand van die leser - nuwe konfigurasies van betekenisse kom met elke herlees.
Die verrukking lê in die manier waarop die raaiselagtige onderdele algaande tot 'n nuwe geheel groei. En wat jou laat begryp: mistiek en werklikheid is diep verweef.
En daarmee iets blootlê van die misterie van die groot menslike verhaal wat hom met felheid in elke goeie roman herhaal - asof dit nog nooit tevore vertel is nie.
Terug na/Back to